Die Span
Lessing Konfyte het begin as ’n stokperdjie, onder die afdak met 2 potte! Dit is nou 20 jaar later en het tot ’n reuse sake-onderneming uitgekring!
Ina Lessing is sedert 1990 doenig met die inmaak van vrugte, groente en die kook van ’n wye verskeidenheid van konfyte. In 2013/14 was Ina aangewys as Sanlam/ Lanbouweekblad se vroue-entrepreneur.
Met ʼn diepgewortelde geloof en daarmee saam vertroue en planne beraam asook soms kanse vat en baie inisiatief aan die dag lê het alles bygedra tot die sukses wat hierdie konfyt-onderneming vandag is. Dit is baie positiwiteit, familie ondersteuning en ʼn bakkievrag liefde wat dit volhoubaar maak. Die kook en inlê is op Modimolle en die verpakking en verspreiding vind plaas vanaf Centurion.
Danie en Ina Lessing
Ma en pa is getroud in 1979. Ma Ina is ‘n oud onderwyseres wat huishoudkunde op die POK studeer het. Pa Danie het BCom bemarking studeer en by Landbou-ingenieurswese gewerk toe hulle ontmoet het. Daarna het hy met volstruise gaan boer en later jare, ongeveer in 1990, het die “konfytboerdery” begin. Hulle het 5 kinders grootgemaak terwyl hulle ‘n suksesvolle besigheid opgebou het. Intussen het hulle 3 skoonkinders en 10 kleinkinders ryker geword en toe sommer ook afgetree. Hulle is steeds 100% betrokke in ‘n raadgewende hoedanigheid en die kinders leer elke dag nog lewenswyshede by die ou gryses.
Danie se Gunsteling konfyt: Heel vye en Perskekonfyt
Danie se Gunsteling koekie: Koffie koekies
Ina se Gunsteling konfyt: Appelkooskonfyt en stamvrugkonfyt
Ina se Gunsteling koekie: Soetkoekies
Jana Roux
Sy is ‘n gekwalifiseerde Professionele Rekenmeester (SA) wat haar graad aan die Universiteit van Potchefstroom (PUKKE) verwerf het. Sy het in Januarie 2020 by die familiebesigheid aangesluit en sedertdien mag niemand geld spandeer sonder baie goeie redes nie. Jana is die tweede jongste van ons 5 kinders. Sy is wel ook die kwaaiste een.
Jana is in Maart 2023 getroud met Izak Roux en hulle is in Bloemfontein gevestig.
Gunsteling konfyt: Appelkooskonfyt en Pynappel en Rissiekonfyt
Gunsteling koekie: Monte Carlo
Natan en Neriché Lessing
Albei is oud onderwysers. Natan het op die Puk studeer en Neriché het haar Bsc Verbruikerswetenskapgraad by Tukkies verwerf. Hulle ablei het in 2014 by die familiebesigheid aangesluit. Natan is die enigste en bederfste seun in die Lessing gesin. Hy en Neriché (nooi Dorfling) is in 2013 getroud en het 3 pragtige kinders. Natan is aan stuur van sake agter die konfytpotte terwyl Neriché die tuig vashou in die bakkery.
Natan se Gunsteling konfyt: Heel vye en Perskekonfyt
Natan se Gunsteling koekie: Koffie koekies
Neriché se Gunsteling konfyt: Soet Mostert en Lemmetjie marmelade
Neriché se Gunsteling koekie: Choc Coconut koekies
Ané en Danie van der Walt
Ané is die oudste van die Lessing kroos. Sy is ‘n oud onderwyseres wat haar graad aan die Universiteit van Potchefstroom (PUKKE) verwerf het. Sy en Danie is getroud in 2008 en is geseën met 3 woelige kindertjies. Danie is ‘n IT konsultant. Hy het ‘n Honneursgraad in Informatika aan die Universiteit van Pretoria (UP) verwerf. Hy help ons na-ure met verskeie aspekte van die onderneming. Ané is sedert 2012 verantwoordelik vir bemarking en verspreiding van die produkte. Sy werk vanuit Centurion waar die Depo gebasseer is. Sy hou die rieme styf vas en sorg dat dinge loop soos aarbeistroop.
Ané se Gunsteling konfyt: Stamvrugkonfyt en Koejaweljellie
Ané se Gunsteling koekie: Gemmerkoekies
Danie se Gunsteling konfyt: Roosjellie en Tamatie en Rissiekonfyt
Danie se Gunsteling koekie: Kondensmelk koekie
Nicolet Smit
Die konfytonderneming het gesorg dat sy ‘n Geoktrooieerde Rekenmeester kon word. Net soos die res van die kinders is sy ook ‘n oud Puk. Nicolet is die jongste van die 5 Lessing kinders. Sy is sedert die begin van 2020 betrokke by die familiebesigheid. Sy was eers saam met Natan in beheer van die konfytpotte, maar sedert sy in September 2023 getrou het, woon sy in Pretoria en is sy werksaam met die finansies, bemarking en verspreiding. Sy en Natan ding mee vir die titel van bederfste Lessing kind.
Gunsteling konfyt: Aarbeikonfyt en Fyn vye
Gunsteling koekie: Gemmermannetjies en Choc Chip